prokureur Read in English Read in isiZulu Read in Setswana Read in isiXhosa

banner 1 afrikaans

 

juta-online-shop-banner

 

INSOLVENSIE REG - Dikwels Gestelde Vrae             Terug na tuisblad

 

  1. Wat is insolvensie?
  2. Wat gebeur wanneer ‘n maatskappy of persoon insolvent/gelikwideer/gesekwestreer is?
  3. Wat is die verskil tussen ‘n likwidateur en ‘n kurator/trustee?
  4. Wie is verantwoordelik vir die aanstelling van ‘n kurator/trustee of ‘n likwidateur?
  5. Wie is die Meester van die Hooggeregshof en wat is sy funksie?
  6. Wat is ‘n alternatief tot likwidasie?
  7. Wat gebeur as my maatskappy onder ondernemingsredding geplaas word?
  8. Wie is verantwoordelik vir die betaling van die kostes wat aangegaan is as gevolg van die likwidasie en sekwestrasie proses?
  9. Wat is vrywillige likwidasie of vrywillige sekwestrasie? Beter bekend as vrywillige boedeloorgawe?
  10. Wat behels die likwidasie of sekwestrasie proses?
  11. Wanneer is die likwidasie of sekwestrasie proses afgehandel?

 

1. Wat is insolvensie?

 

Die Insolvensiewet, 24 van 1936, gee die definisie van die term “insolvent” as ‘n skuldenaar wie se boedel onder sekwestrasie is en sluit ook die skuldenaar in voordat sy boedel onder sekwestrasie geplaas is, gesien in konteks. Die Insolvensiewet gee ook die definisie van die term “insolvente boedel” as ‘n boedel onder sekwestrasie, alhoewel die Wet geen definisie voorsien vir die term “insolvensie” nie. Volgens Suid-Afrikaanse regspraak is die toets vir insolvensie of ‘n skuldenaar se laste sy bates oorskry. Bloot die feit dat ‘n skuldenaar nie sy skuld kan betaal nie is nie noodwendig ‘n aanduiding van insolvensie nie.

In dié verband onderskei die howe tussen feitlike en kommersiële insolvensie. Feitlike insolvensie ontstaan as ‘n skuldenaar se se laste sy bates oorskry, terwyl kommersiële insolvensie verwys na die geval waar ‘n skuldenaar nie sy skuld kan betaal weens kontantvloei probleem nie, maar waar sy bates nog steeds sy laste oorskry.

‘n Privaat persoon word ook insolvent geag as dit bewys word dat hy ‘n daad van insolvensie gepleeg het soos waarvoor voorsiening gemaak word in Artikel 8 van die Insolvensiewet, net soos die geval van ‘n maatskappy wat ‘n “daad van insolvensie” pleeg in terme van Artikel 344 van die Maatskappywet, 61 van 1973.

Bokant van Bladsy

2. Wat gebeur wanneer ‘n maatskappy of persoon insolvent/gelikwideer/gesekwestreer is?

 

Wanneer ‘n maatskappy geag word insolvent te wees, word die maatskappy gelikwideer en word daar ‘n likwidateur aangestel om die bates van die maatskappy te realiseer ten einde die maatskappy se skuld of laste te delg tot voordeel van die skuldeisers.

Wanneer ‘n individu insolvent/gesekwestreer is, word ‘n kurator aangestel om beheer te neem van die persoon se bates ten einde dit te realiseer om sodoende sy skuld te delg tot voordeel van sy skuldeisers.

Bokant van Bladsy

3. Wat is die verskil tussen ‘n likwidateur en ‘n kurator/trustee?

 

Sodra ‘n privaat persoon gesekwestreer word, stel die Meester van die Hooggeregshof ‘n trustee/kurator aan om beheer oor die persoon se bates te neem. In die geval van ‘n maatskappy, beslote korporasie of sommige ander regspersone, word die persoon wat deur die Meester van die Hooggeregshof aangestel word na verwys as ‘n likwidateur. Beide ‘n kurator/trustee en ‘n likwidateur vertolk dieselfde rol en het dieselfde regte en verantwoordelikhede.

Bokant van Bladsy

4. Wie is verantwoordelik vir die aanstelling van ‘n kurator/trustee of ‘n likwidateur?

 

Sodra ‘n voorlopige likwidasie of sekwestrasie bevel bekom is, is dit die plig van die Meester van die Hooggeregshof om ‘n voorlopige likwidateur of kurator aan te stel. ‘n Kurator/trustee word aangestel in die insolvente boedel van ‘n individu in terme van Artikel 56 van die Insolvensiewet en ‘n voorlopige likwidateur word aangestel in die insolvente boedel van ‘n maatskappy in terme van Artikel 368 van die ou Maatskappywet, 61 van 1973.

Bokant van Bladsy

5. Wie is die Meester van die Hooggeregshof en wat is sy funksie?

 

Die Meester van die Hooggeregshof is ‘n instelling wat die voog van insolvente, minderjarige kinders en die boedels van bestorwe mense is. Trustees en likwidateurs raporteer aan die Meester in die uitvoering van hulle pligte.

Volgens die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling is die funksie van die Meester van die Hooggeregshof om doeltreffende, koste-effektiewe en gespesialiseerde dienste te lewer met betrekking tot die toesig, kuratorskap, arbitrasie en inligting aangaande gestorwe en insolvente boedels en trusts. Die Meester dien ook boedelparktisyne, begunstigdes van boedels en trusts, minderjariges en verstandelik gestremde persone in Suid-Afrika ten doel die finansiële regte en eiendomsregte van sulke persone te bewaar.

Bokant van Bladsy

6. Wat is ‘n alternatief tot likwidasie?

 

Wanneer die redelik onwaarskynlik voorkom dat ‘n maatskappy al sy skuld binne die volgende ses maande kan betaal, of wanneer dit redelik waarskynlik blyk dat ‘n maatskappy binne die volgende ses maande insolvent gaan kan wees, kan die direkteure van so ‘n maatskappy besluit om die maatskappy onder ondernemingsredding te plaas.

As ‘n individu oorverskuldig is en insolvensie betree, is hy geregtig om ‘n skuldberader te raadpleeg in terme van Artikel 86 van die Nasionale Kredietwet, 34 van 2005, vir ‘n evaluasie van sy oorverskuldigdheid en om ‘n formele aansoek te loots om skuldhersiening. Die effek van ‘n skuldhersieningsproses is dat daar ‘n reeling getref word met die insolvent se skuldeisers in terme waarvan die skuldberader die insolvent se inkomste toeken ten gunste van die skuldeisers.

Bokant van Bladsy

7. Wat gebeur as my maatskappy onder ondernemingsredding geplaas word?

 

As ‘n maatskappy in aanmerking kom vir ondernemingsredding, stel die Registrateur van Maatskappye ‘n ondernemingsreddingsprakisyn aan om effekteiwelik beheer te neem van die maatskappy se bates en die besigheid van die maatskappy, en stel dan ‘n ondernemingsreddingsplan in in terme waarvan die maatskappy se voornemende redding uiteen gesit word.

Die skuldeisers van die maatskappy is aktief betrokke tydens die proses van ondernemingsredding in die administrasie van die reddingspoging. Die skuldeisers se deelname in hierdie verband word in terme van Artikel 145 van die nuwe Maatskappywet, 71 van 2008, gereguleer. In terme van Artikel 145 is elke skuldeiser geregtig tot kennisgewing van en deelname in alle hofverrigtinge, besluite en vergaderings. Elke skuldeiser het ook ‘n stemreg om die ondernemingsreddingsplan te wysig, goed te keur of te verwerp. Indien die ondernemingsreddingsplan verwerp word ontstaan daar vir elke skuldeiser ‘n verdere reg om óf ‘n alternatiewe plan voor te stel óf ‘n aanbod te maak om die belange van al die skuldeisers wat teen die instelling van die ondernemingsreddingsplan gestem het te verkry. ‘n Komitee van skuldeisers kan die praktisyn raadpleeg omtrent enige saak met betreeking tot die proses van ondernemingsredding, maar hulle mag geensins die praktisyn voorsê hoe om sy pligte na te kom nie.

Lees verder hier oor ondernemingreddingsverrigtinge.

Bokant van Bladsy

8. Wie is verantwoordelik vir die betaling van die kostes wat aangegaan is as gevolg van die likwidasie en sekwestrasie proses?

 

As ‘n maatskappy of ‘n individu se bates gerealiseer of verkoop word ten doel sy skuld te betaal, en dit blyk dat die waarde van sy bates nie genoeg is om die skuld van die individu of die maatskappy te vereffen nie wat dus ‘n tekort in die bedoel van so ‘n individu of maatskappy skep, kan die skuldeisers wat eise bewys het aanspreeklik gehou word om by te dra tot die administrasiekostes van die boedel pro rata hulle eisbedrae. ‘n Trustee/kurator/likwidateur is geregtig tot redelike vergoeding vir sy dienste, welke vergoeding getakseer word deur die Meester, gewoonlik volgens die voorgeskrewe tarrief. Sulke vergoeding is gewoonweg gebasseer op die opbrengs of op die waarde van die bates van die insolvente boedel. Die trustee/kurator/likwidateur sal dan geregtig wees tot ‘n persentasie van die opbrengs gegenereer deur die realisasie van die insolvente boedel se bates, soos voorgeskryf deur die relevante tariewe.

Bokant van Bladsy

9. Wat is vrywillige likwidasie of vrywillige sekwestrasie? Beter bekend as vrywillige boedeloorgawe?

 

Indien ‘n maatskappy insolvent is, kan die maatskappy se direkteure ‘n besluit neem by wyse van ‘n resolusie dat die maatskappy gelikwideer moet word. Die maatskappy se vrywillige aansoek vir likwidasie word by die Registrateur van Maatskappye ingedien en geregistreer waarna daar ook ‘n voorlopige likwidateur aangestel word. In die geval van ‘n persoon kan die persoon self by die hof aansoek doen vir oorgawe van sy boedel. Die hof sal slegs ‘n aansoek om ‘n persoon se boedel vrywilliglik oor te gee aanvaar mits die hof oortuig is dat die persoon insolvent is, daar ‘n daadwerklike voordeel vir die persoon se krediteure is indien hy gesekwestreer word en dat die realisering van die persoon se bates genoegsaam sal wees om die administrasiekoste van die bereddering van die boedel te delg.

Bokant van Bladsy

10. Wat behels die likwidasie of sekwestrasie proses?

 

‘n Krediteur of skuldeiser van ‘n maatskappy of individu kan aansoek doen by die hof vir die likwidasie van die maatskappy of die sekwestrasie van ‘n skuldenaar. Indien die hof op eerste oogopslag oortuig is dat die maatskappy of individu inderdaad insolvent is, reik die hof ‘n voorlopige likwidasie- of sekwestrasiebevel uit. Die aansoek vir likwidasie of sekwestrasie sowel as die voorlopige bevel moet te alle tye onder die aandag van die insolvent en al sy krediteure of skuldeisers gebring word. Met die uitreiking van ‘n voorlopige likwidasie- of sekwestrasiebevel word daar ‘n datum vasgestel waarop enige persoon of entiteit die hof kan nader ten einde aan te voer hoekom die maatskappy of persoon nie gelikwideer of gesekwestreer behoort te word nie. Indien die hof egter oortuig is dat die maatskappy of persoon wel insolvent is, word ‘n finale likwidasie- of sekwestrasiebevel uitgereik

Bokant van Bladsy

11. Wanneer is die likwidasie of sekwestrasie proses afgehandel?

 

‘n Likwidateur of kurator wat finaal aangestel is om beheer te neem van ‘n maatskappy of individu se bates is verantwoordelik daarvoor om ‘n finale likwidasie en distribusie rekening op te stel wat by die Meester van die Hooggeregshof ingedien moet word, welke rekening uiteensit wat die maatskappy of individu se bates en laste ten tye van likwidasie of sekwestrasie was, hoe hierdie bates gerealiseer is, en hoe die waarde van die gerealiseerde bates aan die maatskappy of individu se skuldeisers of krediteure uitbetaal is.

In terme van Artikel 107 van die Insolvensiewet, 24 van 1936, moet ‘n trustee/kurator/likwidateur elke rekening wat by die Meester ingedien word teken en saam met sy verklaring indien waarin hy bevestig dat die rekening ‘n volledige en ware rekenskap is van die administrasie van die relevante boedel tot op datum van die rekening end at, so ver sy kennis strek, alle bates van die boedel in die rekening verskyn.

Indien die Meester tevrede is dat die likwidasie of sekwestrasie proses afgehandel is, word die status van ‘n maatskappy of ‘n individu dienooreenkomstig verander en begin die rehabilitasieproses van so ‘n maatskappy of persoon.

 

ji-van-niekerk-banner

Bokant van Bladsy