prokureur Read in English Read in isiZulu Read in Setswana Read in isiXhosa

banner 1 afrikaans

 

juta-online-shop-banner

 

KRIMINELE REG - Dikwels Gestelde Vrae             Terug na tuisblad

 

Strafregprokureursverteenwoordig kliënte wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n misdaad gepleeg het, en verdedig hul regte gedurende alle fases van die hofsaak. Waar dit by strafreg kom, kan ’n ervare prokureur die verskil maak tussen tronkstraf en ’n verminderde vonnis of selfs kwytskelding.

Selfs in minder ernstige sake, kan ’n ervare strafregprokureur ’n groot impak op die uitkoms van die saak bewerkstellig deur te verseker dat die regte van die aangeklaagde gedurende die regsproses beskerm word.

Vir hierdie en ander redes, is dit krities belangrik om te verseker dat u deur ’n bekwame, ervare strafregprokureur verteenwoordig word indien u krimineel aangekla word.

 

banner expert surveillance investigations

 

banner-jp-strydom-jpsac

 

  1. Wanneer moet ek n strafreg prokureur raadpleeg?
  2. Wat staan my te doen as ek in hegtenis geneem is?
  3. Ek verneem dat iemand wat ek ken in hegtenis geneem is. Hoe kan ek dit bevestig?
  4. Sal 'n prokureur hom of haar op borgtog vrygelaat kry na werksure of op naweke en vakansiedae?
  5. Wat gemaak as ek nie 'n prokureur kan bekostig nie?
  6. Hoeveel sal 'n prokureur my vra om my saak te behartig, en hoe kan ek die kostes beperk?
  7. Kan ek by 'n padblokkade in hegtenis geneem word op grond van uitstaande verkeersboetes?
  8. Wat is my regte wanneer ek by 'n padblokkade afgetrek word? Kan ek gedwing word om 'n asemtoets te doen of my bloed te laat trek?
  9. Mag die polisie my, my huis of my kar sonder 'n lasbrief of my toestemming deursoek?
  10. Indien 'n lasbrief die polisie magtig om my huis te deursoek, kan hul ook elders deursoek?
  11. Mag die polisie my deur afskop om my huis binne te kom?
  12. Mag die polisie my in hegtenis neem sonder 'n lasbrief?
  13. Waar die polisie nie my regte aan my voorgelees het nie, kan my saak uitgegooi word?
  14. Wat is mens rea en hoekom is belangrik?
  15. Moord en strafbare manslag: wat is die verskil?
  16. Roof, diefstal en bedrog: wat is die verskil?
  17. Hoe lank na inhegtenisname moet 'n persoon voor die hof gebring word?
  18. Wat is die verskillende kategorieë van misdaad?
  19. Wat is die strafproses en hoekom is dit belangrik?
  20. Ek het 'n kriminele rekord. Kan my prokureur dit laat uitwis?
  21. Ek is aan 'n misdaad skuldig bevind. Kan ek appèl aanteken?
  22. Watter verwere kan 'n beskuldigde in 'n strafsaak opper?
  23. Hoe word minderjariges ander as volwassenes behandel?
  24. Hoe beskerm ek my teen inhegtenisname indien ek nog nie my "nuwe" dokumente rakende my vuurwapenlisense ontvang het nie?
  25. Wat is die doel van vonnisoplegging en wat is die faktore wat die hof in ag neem?
  26. Wat is die verskillende tipes vonnisse wat 'n hof kan oplê?.
  27. Wat is van die belangrikste wetgewing wat Strafreg betref?

 

 

legally-armed-banner

 

 

1. Wanneer moet ek ' Strafreg Prokureur raadpleeg? 

 

Dit is raadsaam om n prokureur te spreek:

  • sodra u van 'n misdaad aangekla of selfs beskuldig word;
  • wanneer u versoek word om deur die SAPD ondervra te word;
  • wanneer u van mening is dat lede van die SAPD onwettig opgetree het. Kklagtes teen die polisie word ondersoek deur IPID, (sien Independant Directorate Act 2011)

Alhoewel dit enige persoon vry staan om homself in straf verrigtinge te verdedig, word die opsie nie aanbeveel nie.

In die geval waar u van n misdaad aangekla is kan 'n prokureur:

  • stappe neem om u vrylating vanuit -aanhouding te bewerkstellig;
  • met die owerhede onderhandel om klagtes teen u te laat vaar of te verminder;
  • inligting versamel om sodoende u saak te versterk en moontlike swak punte in die Staat se saak aan die lig te bring;
  • 'n privaat speurder of 'n deskundige opdrag gee om u saak te ondersoek;
  • verseker dat geen getuienis teen u op n onwettige wyse bekom is nie.;
  • 'n identiteitsparade bywoon om die regverdigheid daarvan te verseker;
  • u verteenwoordig by u verhoor;
  • verseker dat u die ligste moontlike straf opgelê word.

 

Verskil Stragreg Prokureurs van gewone prokureurs? 

Nee. Dit is wel waar dat byna twee derdes van Suid-Afrikaanse regsfirmas nie strafreg-sake onderneem nie.

Volgens die Suid-Afrikaanse Wetsgenootskap se "National Survey of the Attorney's Profession" beoefen slegs 35,6% van firmas strafreg.

Volgens Wikipedia ervaar die meeste prokureurs die strafhowe as 'n intimiderende plek. Strafreg prokureurs is dus 'n unieke spul!

Bokant van Bladsy

 

2. Wat staan my te doen as ek in hegtenis geneem is?

 

Enige persoon wat in hegtenis geneem is het die reg om stil te bly en nie homself by 'n misdaad te impliseer nie. Dit word in meeste gevalle nie aanbeveel om verklarings van enige aard aan die SAPD te maak nie. Indien so verklaring misverstande uit die weg kan ruim of u onskuld kan aantoon, kan 'n prokureur namens u vertoë rig.

Na inhegtenisname behoort 'n dokument aan u oorhandig te word wat u regte aan u verduidelik. U kan gerus hierdie dokument onderteken, maar u word nie aangeraai om enige ander dokumente te onderteken nie.

Na in hegtenis name is die SAPS by magte om die volgende te doen:

  • u hand-, palm- en voetafdrukke neem;
  • 'n identiteitsparade te hou (u moet altyd daarop aandring om u prokureur teenwoordig te hê;
  • ondersoek instel om te bepaal of u liggaam enige merke of ander uitkenbare eienskappe het;
  • 'n foto van u neem;
  • u na 'n geneesheer neem sodat u bloed getrek kan word.

Bokant van Bladsy

 

3.Ek verneem dat iemand wat ek ken in hegtenis geneem is. Hoe kan ek dit bevestig?

 

Die beste manier is om u plaaslike Polisiestasies te kontak. HIER is 'n skakel na die SAPD webtuiste (U verlaat nou die criminallawyers.co.za webwerf, aangesien die SAPS nie duplisering van hul lys van Polisiestasies toelaat nie) wat die kontakbesonderhede van die land se Polisiestasies bevat.

Bokant van Bladsy

 

4. Kan 'n prokureur hom of haar op borgtog vrygelaat kry na werksure of opnaweke en vakansiedae? 

 

In gevalle waar iemand aangekla word van misdade soos hieronder gelys, kan 'n prokureur met die die ondersoekbeampte reël dat die persoon voor die eerste hofverskyning op borgtog vrygelaat word. Die SAPS kan borg vasstel vir die volgende misdade:

  • Aanranding;
  • Diefstal, waar waarde van die gesteelde goedere onder R2 500 beloop;
  • Crimen iniuria (strafbare laster);
  • Besit van 'n klein hoeveelheid dagga;
  • Dronkbestuur;
  • Roekelose of Nalatige bestuur.

Die SAPS benodig toestemming vanaf 'n Staatsaanklaer om borg vas te stel vir die volgende misdade:

  • Publieke geweld;
  • Strafbare manslag;
  • Bestialiteit;
  • Aanranding met die opset om ernstig te beseer;
  • Brandstigting;
  • Huisbraak;
  • Opsetlike saakbeskadiging;
  • Roof sonder die gebruik van 'n wapen, mits die waarde van die buit onder R20 000 beloop;
  • Diefstal van goeder wat se waarde minder as R20 000 beloop;
  • Besit van onwettige dwelmmiddels;
  • Bedrog, vervalsing of afpersing waar die betrokke bedrag minder as R20 000 beloop;

Waar iemand aangekla is van die volgende misdade, kan slegs 'n hof borg vasstel, en slegs gedurende gewone hoftyd:

  • Moord;
  • Verkragting;
  • Misdade van seksuele aard, gepleeg teenoor 'n kind of verstandelik gestremde persoon; Handel Dryf in mense vir seksuele doeleindes;
  • Gewapende Roof;
  • Diefstal, Ontvangs van Gesteelde Goedere, Roof, Bedrog of Vervalsing waar die betrokke bedrag meer as R20 00 beloop;
  • Onwettige Besit of Handel Dryf in Edelmetale of -stene;
  • Ontvoering;
  • Menseroof;
  • Intimidasie.

Bokant van Bladsy

 

5. Wat gemaak as ek nie 'n prokureur kan bekostig nie?

 

Dit staan enige person vry om sy eie verdediging te behartig, maar dit word nie aangeraai nie. 'n Leuk is nie vertroud met die strafprosesreg nie. Hy sal byvoorbeeld nie weet hoe om die Staat se getuies te kruis-ondervra, of teen ontoelaatbare getuienis beswaar te maak, of sy eie getuienis effektief aan te bied nie.

Diegene wat nie die dienste van 'n prokureur kan bekostig nie kan gerus die Regshulp Raad nader om hulp. In meeste strafhowe is daar n Regshulp beampte wat 'n die aansoek kan afneem. Waar daar nie Regshulp kantore op kleiner dorpe is nie, sal daar 'n privaat praktisyn aangestel word om die saak te behartig, teen geen koste aan die beskuldigde nie.

Die Regshulpraad verleen slegs hulp aan diegene wat onder 'n sekere bedrag per maand verdien, asook persone wat in hegtenis is. Die persoon wat om hulp aansoek doen sal die "middele-toets" moet voltooi deur sy of haar inkomste en bates te verklaar. Indien die aansoek nie slaag nie, kan die aansoeker appèl aanteken deur redes te verskaf hoekom die weiering van regshulp sal lei tot 'n wesenlike onreg teenoor die aansoeker.

Die Regshulp Raad doen nie na-uurse borgaansoeke. Vir daardie doel sal 'n private prokureur aangestel moet word.

Vir meer inligting rondom die dienste van die Regshulpraad kan u die Legal Aid Guide raadpleeg.

Bo en behalwe die reg op Regsverteenwoordiging, het elke beskuldigde die volgende regte:

  • Die reg op 'n Spoedige, Publieke en Regverdige Verhoor;
  • Die Reg om onskuldig geag te word tot skuld bo redelike twyfel bewys is;
  • Die Reg teen Self-inkriminasie;
  • Die Reg om getuies te konfronteer en te kruis-ondervra;
  • Die Reg om Getuienis aan te bied en getuies te roep.

Bokant van Bladsy

 

6. Hoeveel sal 'n prokureur my vra om my saak te behartig, en hoe kan ek die kostes beperk?

 

Elke prokureur bepaal sy eie fooie vir die verskillende tipes werk wat verrig word. Dit is belangrik om 'n ooreenkoms met hom te bereik voor die werk begin word. Meeste prokureurs vereis dat 'n deposito betaal word voor werk onderneem word. Dit is ook algemeen dat prokureurs verhoogde fooie vra vir werk wat na-ure gedoen word, soos borgaansoeke buite werksure of gedurende naweke en vakansiedae).

Daar is sekere algemene maniere hoe fooie gestruktureer word:

  • Uurlikse Fooi

Die prokureur hef fooie per uur, ongeag watter tipe werk verrig word. Die uurlikse tarief behoort vooraf ooreengekom word.

  • Daaglikse Fooi

Gewoonlik word daar 'n vasgestelde bedrag gehef vir elke keer wat 'n saak uitgestel word, en 'n ander bedrag vir elke verhoordag, ongeag hoeveel ure spandeer word.

  • Globale Fooi

Die prokureur kan 'n vase bedrag vasstel vir die behartig van die hele saak, ongeag hoe lank dit neem of hoeveel keer dit uitgestel word. Hierdie bedrag kan sekere dienste uitsluit, soos borgaansoeke en die loods van 'n appèl. Die bedrag mag ook kostes deur die prokureur namens die kliënt aangegaan is (soos bekom van die dossierafskrif).

Beperking van Regskoste

Die belangrikste stap in die beperking van regskoste is die ooreenkoms met die prokureur rondom die struktuur van fooie. Hier volg sekere maniere waarop kostes verder verminder kan word:

  • Wees georganiseerd. Probeer soveel inligting as moontlik aan die prokureur beskikbaar stel teen die eerste konsultasie.
  • Indien u reeds in die hof verskyn het, moet u die saaknommer en die datums van alle vorige asook volgende verskynings byderhand hê.
  • U moet ook alle vrae wat u het vooraf gereed kry om sodoende die konsultasie tyd te beperk.
  • Wees deeglik. Vertel die prokureur al die feite van die saak, asof hy geen kennis daarvan dra nie. Hoe meer inligting die prokureur oor beskik, hoe beter kan hy u saak behartig. Die prokureur het 'n plig om u inligting vertroulik te hou.
  • Hou die konsultasies kort en kragtig.
  • Kommunikeer. U is waarskynlik die prokureur se grootste bron van inligting oor die saak. Indien iets gebeur het vanaf u vorige konsultasie, moet u dit aan die prokureur weergee. Dit kan veroorsaak dat hy sy inslag verander.
  • Gaan die rekening noukeurig na, sodat daar nie kostes gehef word waarop u nie ooreengekom het nie.

Bokant van Bladsy

 

7. Kan ek by 'n padblokkade in hegtenis geneem word op grond van uitstaande verkeersboetes?

 

Nee. 'n Persoon kan slegs in hegtenis geneem word met betrekking tot vorige verkeersoortredings wanneer daar reeds 'n lasbrief vir sy inhegtenisname gemagtig is deur 'n landdros. So 'n lasbrief word tipies gemagtig wanneer iemand 'n dagvaarding verontagsaam. 'n Persoon kan nie in hegtenis geneem word slegs omdat hy "uitstaande verkeersboetes" het nie.

'n Kennisgewing wat per pos gestuur is, is nie 'n geldige dagvaarding nie. Vir 'n dagvaarding om geldig en bindend te wees, moet dit op die persoon self beteken word by sy woning of werksplek. In laasgenoemde geval moet die dagvaarding ontvang word deur 'n persoon 16 jaar of ouer. Die dagvaarding moet die spesifieke hof en datum van verskyning aandui. Neem wel kennis dat wanneer 'n verkeersbeampte 'n boete uitreik, daar gewoonlik reeds 'n verhoor datum toegeken is en die boete dan ook as dagvaarding geld.

Ten tyde van inhegtenisname mag die persoon aandring op 'n afskrif van die lasbrief. Indien die beampte wat die inhegtenisname wil uitvoer op versoek nie die afskrif van die lasbrief kan of wil oorhandig nie, is die inhegtenisname en daaropvolgende aanhouding onregmatig, selfs in die geval waar daar wel 'n geldige lasbrief was.

Die onregmatigheid van inhegtenisname of aanhouding, al dan nie, beïnvloed nie die persoon se aanspreeklikheid vir die oorspronklike verkeersoortreding of wanverskyning in die hof nie. Wanneer daar 'n onregmatige inhegtenisname of aanhouding plaasgevind het, moet die slagoffer skadevergoeding teen die staat eis.

Enige persoon wat deur 'n verkeersbeampte in hegtenis geneem is, moet onmiddellik na die SAPD-stasie of die hof wat die lasbrief uitgereik het, geneem word. Verkeersbeamptes word nie toegelaat om persone langs die pad aan te hou terwyl die padblokkade voortduur nie en mag ook nie die persoon na 'n bankteller neem om geld te trek vir die "boetes" nie. Die enigste doel vir inhegtenisname, is om sodoende die persoon voor die hof te bring sodat hy aangekla kan word. Dit is nie veronderstel om gebruik te word om lede van die publiek lastig te val of te intimideer sodat hulle hulle boetes betaal nie.

Art 54(2)(a) van die SPW

Art 39(2) van die SPW

Minster van Veiligheid en Sekuritiet V Rautenbach 1996 (1) SA 720 (A)

Mahlongwana v Kwatinidubu Town Council 1991 (1) SACR 669

E Duncan v Minister of Law and Order 1984 (3) SA 460 (T)

Bokant van Bladsy

 

8. Wat is my regte wanneer ek by 'n padblokkade afgetrek word?

 

Die Nasionale- en Provinsiale Polisiekommissaris mag skriftelik magtiging gee vir padblokkades op enige publieke pad of spesifieke area. Hierdie skriftelike magtiging moet 'n spesifieke datum, beraamde tydsduur, plek en doelstellings bevat. Slegs indien die bekom van skriftelike magtiging die doel sal verydel, mag 'n padblokkade sonder magtiging gehou word. 'n Polisiebeampte mag enige persoon of voertuig sonder 'n lasbrief deursoek. Die publiek is geregtig op 'n afskrif van die skriftelike magtiging vir die padblokkade. Indien die magtiging op grond van te min tyd nie bekom is nie, die redes vir die hou van die padblokkade.

Kan ek gedwing word om 'n asemtoets te doen of my bloed te laat trek?

Die Nasionale Padverkeerswet maak daarvoor voorsiening dat geen persoon mag weier om 'n bloed- of asem monster te verskaf nie. Weiering kom neer op 'n misdaad waarvoor dieselfde straf opgelê kan word as die van bestuur met bloed-alkoholvlak bo die voorgeskrewe beperking.

Die Strafproseswet bepaal dat polisiebeamptes persone wat in hegtenis geneem is na 'n geregistreerde mediese praktisyn moet neem indien daar bloed getrek moet word. Die polisiebeamptes is by magte om 'n persoon met geweld te dwing om 'n bloedmonster te verskaf.

Bokant van Bladsy

 

9. Mag die polisie my, my huis of my kar sonder 'n lasbrief of my toestemming deursoek?

 

Elke persoon se reg tot privaatheid word deur die Grondwet beskerm. Dit is wel nie 'n absolute reg nie en kan in sekere omstandighede beperk word.

As 'n algemene reël mag 'n persoon (dit sluit sy huis of voertuig in) slegs deursoek word indien daar 'n deursoekingslasbrief uitgereik is. So 'n lasbrief kan slegs deur 'n vrederegter (soos 'n landdros) uitgereik word indien daar goeie gronde is om te vermoed dat daar onwettige items op die perseel is.

'n Persoon of perseel mag slegs deursoek word sonder 'n lasbrief, indien daar in spesifieke omstandighede objektief geglo word dat 'n lasbrief bekom sal word, maar dat daar nie tyd is om een te bekom nie.

'n Vrou mag slegs deur 'n vroulike polisiebeampte of 'n vroulike lid van die publiek deursoek word.

Bokant van Bladsy

 

 10. Indien 'n lasbrief die polisie magtig om my huis te deursoek, kan hul ook elders deursoek?

 

Nee. Omdat die deursoeking van 'n persoon se eiendom inbreuk maak op sy privaatheid, mag die polisie slegs die deursoeking uitvoer op die wyse wat deur die lasbrief gemagtig is. Vir 'n lasbrief om geldig te wees, moet die volgende besonderhede daarop verskyn:

  1. Wie die lasbrief mag uitvoer;
  2. Wat en waar deursoek mag word;
  3. Watter artikels op beslag gelê mag word.

Die geldigheid van 'n deursoekingslasbrief moet noukeurig ondersoek word, inaggenome die hoë waarde wat aan 'n persoon se privaatheid toegeskryf word. Die terme van die lasbrief word dus streng geïnterpreteer en moet daar slegs aan die uitdruklike bepalings gehoor gegee word.

Die beampte wat die lasbrief uitvoer, moet na die uitvoering en op versoek 'n afskrif van die lasbrief oorhandig.

Indien 'n persoon aangekla word van 'n misdaad en die staat bewysmateriaal wil gebruik wat bekom is deur 'n onwettige deursoeking of gebrekkige lasbrief, mag die hof die getuie nog steeds toelaat indien dit in belang van geregtigheid is. Gewoonlik sal getuienis nie uitgesluit word bloot as gevolg van 'n formele gebrek aan 'n lasbrief nie.

Dit is belangrik om kennis te neem dat 'n lasbrief slegs uitgevoer mag word gedurende die dag, behalwe as uitvoering in die aand uitdruklik gemagtig word.

Toich v The Magistrate, Riversdale & others 2007 (2) SACR 235 (C)

Bokant van Bladsy

 

11. Mag die polisie my deur afskop om my huis binne te kom?

 

'n Polisiebeampte wie regmatig 'n perseel mag deursoek, mag die nodige geweld toepas om weerstand te oorkom. Die voorwaarde is dat hy eers hoorbaar aandring op toegang tot die perseel en die doel daarvoor bekend maak. Die geweld wat gebruik mag word, sluit die afbreek van 'n deur of venster in. Wanneer die polisiebeampte 'n rede het om te glo dat die item waarvoor gesoek word vernietig mag word indien hy eers toegang versoek, mag hy dadelik die perseel betree.

Deursoeking van 'n persoon of perseel moet geskied met streng inagname van ordentlikheid en orde. Polisiebeamptes moet in alle omstandighede slegs die minimum geweld toepas wat die omstandighede vereis.

Bokant van Bladsy

 

12. Mag die polisie my in hegtenis neem sonder 'n  lasbrief?

 

Enige inhegtenisname is 'n ernstige inbreukmaking op die individu se vryheid van beweging asook sy privaatheid en menswaardigheid. Omdat 'n beskuldigde persoon voor skuldigbevinding as onskuldig geag word, moet hy slegs in hegtenis geneem word waar 'n dagvaarding oneffektief sal wees. Dit is in belang van geregtigheid dat verdagtes sovêr moontlik teen onregmatige inhegtenisname beskerm word en terselfdertyd nie die ondersoek en bekamping van misdaad belemmer nie.

As 'n reël mag inhegtenisname slegs uitgevoer word met 'n lasbrief. Hier onder volg 'n lys van sommige uitsonderings op hierdie reël.

  1. Waar 'n misdaad gepleeg of gepoog word in die teenwoordigheid van 'n polisiebeampte;
  2. Waar 'n polisiebeampte 'n redelike vermoede het dat 'n persoon een van 'n lys ernstige misdade gepleeg het. Hierdie misdade sluit moord, roof, verkragting, huisbraak en brandstigting in;
  3. Enige persoon wat met opset die polisie in uitvoering van hulle pligte belemmer;
  4. Waar die polisiebeampte oortuig is daarvan dat 'n persoon ontsnap het uit regmatige aanhouding;
  5. Waar 'n persoon betrap word in besit van eiendom wat vermoedelik gesteel is. Waar 'n persoon in hegtenis geneem is op 'n onregmatige wyse, mag hy hom teësit of vlug. So 'n onregmatige inhegtenisneming kan waarskynlik aanleiding gee tot 'n skadevergoedingseis teen die staat.

S v More 1993 (2) SACR 606 (W) 608 Art 40 van die SPW

Bokant van Bladsy

 

13. Waar die polisie nie my regte aan my voorgelees het nie, kan my saak uitgegooi word?

 

Waar 'n persoon se regte nie aan hom voorgehou word nie, sal hy nie outomaties onskuldig bevind word nie. Slegs in omstandighede waar die beskuldigde onbewus van sy regte was en dit veroorsaak het dat sy verhoor onregverdig was, of die regspleging negatief beïnvloed, sal hy onskuldig bevind word.

Die volgende dien as voorbeelde van waar 'n verhoor onregverdig bevind is;

  1. Waar 'n beskuldigde onbewus was van sy reg tot stilswye en sy reg om hom nie by die pleging van 'n misdaad te impliseer nie, het hy sekere gesteelde items aan die polisie gaan uitwys. In die geval was hy onskuldig bevind op grond van sy reg om nie homself by misdaad te impliseer nie.
  2. Waar 'n beskuldigde nie in kennis gestel is van sy reg tot regsverteenwoordiging nie, het hy homself verdedig en is skuldig bevind. Op appel is hy onskuldig bevind.

Bokant van Bladsy

 

14. Wat is MENS REA en hoekom is dit belangrik?

 

In die strafreg, is mens rea - die Latynse term vir die "skuldige gemoed" - een van die elemente van die misdaad wat die staat moet bewys vir 'n skuldigbevinding. Die begrip word somtyds beskryf as "skuld." Die staat moet, onder andere, bewys dat die beskuldigde die misdaad gepleeg het met een of ander vorm van skuld. Waar 'n persoon nie 'n skuldige gemoed gehad het nie, is hy oor die algemeen nie strafregtelik aanspreeklik nie.

Daar is twee verskillende tipes mens rea:

  1. Opset (dolus): die element van skuld word voldoende bewys indien die staat kan aantoon dat die beskuldigde opsetlik opgetree het. Dit is onbelangrik of dit sy direkte bedoeling was. Selfs indien sy bedoeling was om iets anders tedoen, maar voorsien het dat die onwettige gevolg kon plaasvind, het hy dandie nodige opset gehad.
  2. Nalatigheid (culpa): wanneer 'n persoon se optrede nie voldoen aan die van die redelike persoon in die omstandighede nie, was hy nalatig. Die toets kan as volg opgesom word:
    • Sou die redelike persoon in dieselfde omstandighede die onregmatige gevolg voorsien?
    • Sou die redelike persoon stappe neem om daardie gevolg te verhoed?
    • Het die beskuldigde versuim om daardie stappe te neem?

Indien al drie bogenoemde vrae met ja beantwoord kan word, was die beskuldigde nalatig.

Die spesifieke misdaad bepaal watter een van hierdie (opset of nalatigheid) bewys moet word. Moord is 'n voorbeeld van waar opset bewys moet word, waar strafbare manslag slegs nalatigheid vereis. Kom ons neem as voorbeeld 'n scenario waar 'n motorbestuurder bots met 'n voetganger en hom sodoende dood. Indien die hof bevind dat die motorbestuurder opsetlik die voetganger gedood het, sal hy skuldig bevind word aan moord. Aan die ander kant, waar 'n hof bevind dat die motorbestuurder nalatig was deur nie genoeg na die pad op te let nie, en dat die redelike persoon die ongeluk kon vermy, sal hy slegs skuldig bevind word aan strafbare manslag. Die vonnis vir strafbare manslag sal aansienlik ligter wees as dié vir moord.

Bokant van Bladsy

 

15. Moord en Strafbare manslag: Wat is die verskil?

 

'n Persoon is aan moord skuldig waar hy onregmatig en opsetlik die dood van 'n ander veroorsaak. Waar 'n ander persoon se dood onregmatig veroorsaak is deur iemand wat nalatig opgetree het, is hy aan strafbare manslag skuldig. Sien die antwoord hierbo wat betrekking het op mens rea as 'n voorbeeld.

Bokant van Bladsy

 

16. Roof, diefstal en bedrog: Wat is die verskil?

 

  1. Diefstal
    • 'n Persoon pleeg diefstal wanneer hy onregmatig en opsetlik 'n ander se eiendom neem om die eienaar of regmatige besitter permanent van sy regte daartoe te ontneem.
    • Voorbeelde:
      • X betree sy buurman se tuin en neem sy grassnyer sonder toestemming, met die bedoeling om nooit die grassnyer erugbesorg nie (indien X van plan is om een of ander tyd die grassnyer terug te besorg, is dit nie diefstal nie).
      • X betree 'n winkel, neem daar 'n sjokolade en loop uit sonder om te betaal.
  2. Roof
    • Roof behels die diefstal van eiendom deur die gebruik van geweld of dreigemente van geweld om die eienaar sodoende tot onderwerping te dwing. Roof word somtyds na verwysas "diefstal met geweld".
    • Voorbeelde:
      • X nader iemand op straat, dreig met 'n vuurwapen of rand hom fisies aan sodat hy sy besittings oorhandig en maak hom dan uit die voete.
      • Motorkapings.
  3. Bedrog
    • Bedrog is die onregmatige en opsetlike maak van 'n wanvoorstelling wat ware nadeel of potensiële nadeel vir 'n ander veroorsaak.
    • Voorbeelde:
      • X voltooi 'n tjek van 'n ander persoon en bied dit dan aan vir betaling.
      • X koop klere op rekening sonder om ooit die bedoeling te hê om die rekening te betaal. Waar 'n persoon op krediet koop, maak hy die stilswyende voorstelling dat hy bereid is om te betaal, dat hy dit in die toekoms gaan betaal en dat hy inderwaarheid genoeg geld gaan hê om te betaal.

Bokant van Bladsy

 

17. Hoe lank na inhegtenisname moet 'n persoon voor die hof gebring word?

 

Enige persoon wat in hegtenis geneem is moet so gou moontlik na 'n polisiestasie geneem word, asook ingelig word van sy reg om vir borg aansoek te doen.

Die persoon moet binne 48 uur na sy inhegtenisname voor 'n hof gebring word. Indien die 48 uur tydperk verstryk buite gewone hoftyd, moet die persoon verskyn op die eerste volgende hofdag.

Net omdat 'n persoon aangehou mag word vir 48 uur, beteken nie dat die polisie hom so lank moet aanhou nie. Die persoon is binne sy regte om self sy eerste verskyning te reël om sodoende n borgaansoek te loods. Die polisie, as deel van die Staat, het 'n plig om die persoon behulpsaam te wees om sy verskyning so gou moontlik te laat plaasvind.

Bokant van Bladsy

 

18. Wat is die verskillende kategorieë van misdaad?

 

Daar is twee maniere om misdaad te kategoriseer:

  1. Misdaad se oorsprong
    • Misdade kan deur wette van Parlement geskep word (ook statute genoem). 'n Voorbeeld van so 'n misdaad is dronkbestuur, wat amptelik bekend staan as "oortreding van Artikel 65 (1) (saamgelees met Artikel 89 (1)) van die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996."
    • Misdade kan hul oorsprong ook in die Gemenereg hê. Die Gemenereg is die deel van ons regstelsel wat sy oorsprong gehad het in Holland en wat deur die jare deur ons howe ontwikkel en uitgebou is. Moord is 'n voorbeeld van 'n Gemeenregtelike misdaad. Daar is geen wet of statuut wat die misdaad van moord daarstel nie.
  2. Die aard van die misdaad
    • Sommige misdade het 'n element van geweld: moord, roof, aanranding en verkragting.
    • Misdade met 'n element van oneerlikheid: diefstal, roof, bedrog en vervalsing.
    • Misdade met 'n seksuele aard: verkragting, statutêre verkragting en onsedelike aanranding.
    • Verkeersoortredings: dronkbestuur, spoedoortredings of parkeeroortredings.

Bokant van Bladsy

 

19. Wat is die strafproses en hoekom is dit belangrik?

 

Bokant van Bladsy

Strafprosesreg is 'n samestelling van reëls en prosedures wat die hele proses van misdaad vervolg en reguleer. Dit reël, onder andere, inhegtenisname, borg, die verhoor, vonnis en appel. Die grootste bron van Suid-Afrikaanse Strafprosesreg is die Strafproseswet ("SPW").

Die Grondwet vervat ook belangrike beginsels van die Strafproses, veral in die Handves van Menseregte. Die Handves van Menseregte verskans, byvoorbeeld elke beskuldigde persoon se reg tot 'n regverdige verhoor.

 

20. Ek het 'n kriminele rekord. Kan my prokureur dit laat uitwis?

 

Vanaf 6 Mei 2009 kan enige persoon die Direkteur-Generaal van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling skriftelik versoek om sekere inskrywings op sy kriminele rekord te verwyder. Die versoek kan eers gerig word indien 10 jaar verstryk het sedert die spesifieke skuldigbevinding, mits die persoon nie intussen gevonnis tot tronkstraf sonder die keuse van 'n boete is nie.

Die volgende vonnisse kan uitgewis word:

  1. 'n Uitgestelde vonnis;
  2. Waar die persoon gewaarsku en ontslaan is;
  3. 'n Vonnis van 'n boete van minder as R20 000;
  4. Lyfstraf;
  5. Tronkstraf met die keuse van 'n boete van minder as R20 000;
  6. Enige tronkstraf wat in die geheel opgeskort is; Korrektiewe toesig ingevolge Artikel 276 (1) (H) of (I); of
  7. Periodieke gevangenis ingevolge Artikel 276 (1) (C).

Let wel dat persone wie se naam in die Nasionale Register van Seksuele Oortreders of die Nasionale Kinderbeskerming register aangeteken is, nie hulle name uit die genoemde registers kan laat verwyser nie.

Alle misdade wat verband hou met Apartheidswetgewing wat spesifiek met rasse-aangeleenthede verband hou, word outomaties van 'n persoon se rekord uitgewis.

Nevetec is ‘n maatskapy wat spesialiseer in die uitwis van kriminele rekords en om klarings-sertifikate te bekom van die SAPD, en hier kan u meer lees oor hul dienste.

Bokant van Bladsy

 

21. Ek is aan 'n misdaad skuldig bevind. Kan ek appél aanteken?

 

In strafsake kan appèl aangeteken word teen die skuldigbevinding, die vonnis, of beide. In die meeste gevalle, moet die persoon aansoek doen om verlof tot appèl in die hof wat hom skuldig bevind het. 'n Regter of landdros moet verlof tot appèl toestaan indien daar 'n moontlikheid bestaan dat 'n ander hof tot 'n ander bevinding kan kom.

Die Strafproseswet bepaal dat die aansoek binne 14 dae na afhandeling van die saak gebring moet word. Indien die verlof nie toegestaan is nie, kan die persoon 'n brief, wat bekend staan as 'n “petisie”, aan die Regter-President van die hof waarteen geappelleer word, stuur. Die petisie moet binne 21 dae vanaf die datum van afwysing van verlof tot appèl, geliasseer word. 'n Hof wat die verlof tot appèl of die petisie aanhoor, kan vir 'n goeie rede die nie-nakoming van tydsbeperkinge kondoneer.

'n Persoon het 'n outomatiese reg tot appèl in die volgende omstandighede:

  1. Waar die persoon gevonnis is tot tronkstraf wat nie in geheel opgeskort is nie, en ten tyde van die misdryf:
    • (a) onder 16 jaar oud was;
    • (b) tussen 16 en 18 jaar oud was, nie regsverteenwoordiging gehad het nie en in 'n streekhof gevonnis is.
  2. Waar 'n persoon tot lewenslange tronkstraf gevonnis is deur 'n streekhof.

Bokant van Bladsy

 

22. Watter verwere kan 'n beskuldigde in 'n strafsaak opper?

 

Noodweer

Waar 'n persoon 'n slagoffer van 'n onregmatige aanval op hom of sy eiendom is, mag hy die aanval met geweld afweer. Enige beserings wat dan aan die aanvaller toegedien word, is nie onregmatig nie. Die verweer kan slegs slaag indien 'n hof bevind dat die handeling redelik in omstandighede was.

Vereistes:

  • Die aanval moes reeds begin het, of dadelik dreigend wees:
  • Die aanval moet onregmatig wees. Noodweer kan nie geopper word indien die aanval, byvoorbeeld wettige inhegtenisname was nie;
  • 'n Persoon mag slegs lewe, liggaam, eiendom, persoonlike vryheid, menswaardigheid en seksuele integriteit beskerm;
  • Die aksie moes nodig wees om die aanval af te weer;
  • Die aksie moes op die aanvaller gemik wees;
  • Die verdediging moes redelik in omstandighede wees. Dit sal waarskynlik onredelik wees om iemand wat jou hare trek, te skiet.

Noodtoestand

Hierdie verweer kan geopper word waar 'n persoon moet kies tussen 'n onreg verduur en die wet oortree. Dit word gereeld gebruik om dade te regverdig in toestande van nood. Daar sal waarskynlik op noodweer gesteun kan word teen 'n aanklag van bestuur bo die spoedgrens indien die beskuldigde 'n ander persoon na die hospitaal gehaas het.

Vereistes:

  • Die noodtoestand moes reeds begin het, of dadelik dreigend wees:
  • Slegs regs erkende belange mag beskerm word;
  • Die beskuldigde moes nie self die noodtoestand geskep het nie;
  • Die beskuldigde moes die noodtoestand afgeweer het op die manier wat die minste skade veroorsaak;
  • Die handeling moes redelik in die omstandighede gewees het. Daar kan nie meer skade aangerig word as wat die beskermde belang werd is nie.

Alibi

Die alibi verweer is eenvoudig 'n ontkenning van die bewering dat die beskuldigde die misdaad gepleeg het. Die verweer word bewerkstellig deur 'n getuie te roep wat bevestig dat die beskuldigde elders was en nie die misdaad kon pleeg nie.

Onmoontlikheid

Hierdie verweer is beskikbaar waar dit vir die beskuldigde onmoontlik was om te voldoen aan die vereistes wat die reg op hom geplaas het. Die verweer kan geopper word waar die beskuldigde nie sy belastingopgawe betyds kon indien nie omdat een van sy werknemers al sy finansiële rekords vernietig het.

Vereistes:

  • Daar moet 'n positiewe verpligting op die beskuldigde geplaas wees;
  • Dit moet onmoontlik wees om aan die vereistes te voldoen, nie slegs moeilik of bemoeiend nie;
  • Die beskuldigde mag nie die oorsaak van onmoontlikheid wees nie.

Amptelike bevele

Hierdie verweer kan slegs bestaan waar 'n ondergeskikte amptelike bevele van 'n gesaghebbende persoon uitvoer, soos in die weermag of polisie.

Vereistes:

  • Die bevele moet van 'n persoon wat wettig in 'n gesagsposisie oor 'n ondergeskikte, wees;
  • Die ondergeskikte moes verplig wees om die bevel te gehoorsaam. Daar moes nie meer gedoen wees as wat beveel is nie;
  • Die verweer kan nie geopper word waar die bevel ooglopend onwettig was nie. 'n Soldaat of polisiebeampte kan, byvoorbeeld, nooit 'n bevel uitvoer om iemand te verkrag nie.

Toestemming

In sekere omstandighede kan 'n persoon toestem tot 'n handeling wat gewoonlik 'n misdaad sou wees. Die mees algemene toepassing is in gevalle van verkragting waar 'n man kan aanvoer dat daar toestemming tot geslagsgemeenskap was.

Vereistes:

  • Die toestemming is deur die reg erken. 'n Bokser kan toestem dat sy opponerend hom aanrand, selfs totdat hy doodgaan. Dit is interessant om daarop te let dat 'n persoon nie in Suid-Afrika kan toestem dat 'n ander persoon hom 'n genadedood gee nie. Hierdie handeling kom neer op moord.
  • Die toestemming moet vrywillig en ingelig wees;
  • Die persoon moet in staat daartoe wees om toestemming te gee. 'n Persoon van onder 7 jaar of iemand wat verstandelik gestremd is, kan, byvoorbeeld, nie toestemming gee nie.

De minimus non curat lex

Hierdie Latynse term beteken eenvoudig "die reg bemoei hom nie met beuselagtighede nie." Hierdie verweer is tipies slegs beskikbaar by minder ernstige misdade. 'n Hof het al, byvoorbeeld, 'n beskuldigde vrygespreek wie 'n waardelose stuk papier gesteel het.

Negotorium Gestio

Hierdie verweer is beskikbaar waar 'n persoon spontaan 'n handeling verrig met die doel om 'n ander persoon te bevoordeel, maar sonder daardie persoon se kennis of toestemming. Die verweer kan geopper word waar 'n persoon by sy buurman se huis inbreek om 'n vuur te gaan blus.

Bokant van Bladsy

 

23. Hoe word minderjariges anders as volwassenes behandel?

 

Ingevolge die Grondwet, het elke kind (onder 18 jaar) die volgende regte, onder andere die reg tot:

  • Versorging;
  • Basiese voeding, skuiling, gesondheids- en maatskaplike dienste;
  • Beskerming teen verwaarlosing, mishandeling en aftakeling;
  • Aanhouding slegs as 'n laaste uitweg;
  • Aanhouding vir die kortste moontlike tyd;
  • Aanhouding slegs saam met persone 18 jaar en jonger; Regsverteenwoordiging op staatsonkoste;
  • Inagneming van die kind se belange in elke saak wat hom raak.

Inhegtenisname en aanhouding terwyl verhoorafwagtend

Elke persoon word voor skuldigbevinding onskuldig geag. Kinders behoort net in hegtenis geneem te word indien 'n dagvaarding of skriftelike kennisgewing nie effektief sal wees nie. In die meeste gevalle word kinders nie in hegtenis in die normale sin van die woord geneem nie. Gewoonlik sal die ondersoekbeampte reëlings tref dat die kind se ouer of voog hom na die polisiestasie toe bring. Waar dit nodig is, sal 'n kind wel soos enige ander verdagte in hegtenis geneem word.

Enige kind moet voor sy eerste hofverskyning deur 'n proefbeampte geassesseer word. 'n Proefbeampte is 'n maatskaplike werker in diens van die staat. Die proefbeampte maak 'n aanbeveling aan die hof rakende waar die kind geplaas moet word terwyl hy verhoorafwagtend is. Kinders sal meestal in die sorg van hulle ouers geplaas word, of in spesiale aanhouding fasiliteite gehou word, wat bekend staan as "'n plek van veiligheid." 'n Kind sal slegs in 'n tronk aangehou word in uiterste gevalle.

Verhoor

Kinders, en spesifiek eerste oortreders, word meestal nie vir mindere oortredings vervolg nie. In so 'n geval, sal die kind ingeskryf word in 'n afwenteling program soos dié wat deur NICRO aangebied word. Indien die minderjarige so 'n program voltooi, word die klagtes teen hom teruggetrek.

Oor die algemeen is strafverhore oop vir die publiek. Waar een van die beskuldigdes 'n minderjarige is, word slegs hofamptenare en die kind se ouers of voogde by die verrigtinge toegelaat. Die res van die verhoor is dieselfde as dié vir 'n volwassene.

Vonnisoplegging

Die oogmerk van vonnisoplegging by minderjariges, is om die kind te herintegreer in die samelewing sodat hy 'n opbouende bydrae kan maak.

In die praktyk sal 'n strafhof altyd 'n voorvonnisverslag van 'n proefbeampte of korrektiewe beampte aanvra. Die verslag is 'n vereiste waar die minderjarige 'n ernstige oortreding begaan het of waar hy vorige veroordelings het. Artikel 40 (1) en 40 (2) van die Konvensie van Kinderregte bepaal dat 'n hof sy wye magte by vonnis met simpatie sal toepas en sodoende 'n gepaste vonnis oplê.

'n Hof sal gewoonlik alle opsies uitput voor tronkstraf as vonnis oorweeg word.

Child Justice Act 2009

Dit word verwag dat die nuwe wet in werking sal tree op 10 April 2010. Die wet se oogmerk is die oprigting van gespesialiseerde kinderhowe om sodoende 'n gepaste omgewing vir minderjarige oortreders te skep. Nuwe "Child Justice Centres" word daarop gemik om al die fases van die strafregstelsel in te sluit waar minderjariges betrokke is. Die wet reguleer die hele proses van inhegtenisname tot appèl. (kliek hier)

Bokant van Bladsy

 

24. Hoe beskerm ek my teen in hegtenisname indien ek nog nie my "nuwe" dokumente rakende my vuurwapenlisensie ontvang het nie??

 

Vanaf 30 Junie 2009 het alle lisensies en permitte wat ingevolge die Wet op Wapens en Ammunisie 75 van 1969 uitgereik is, verval. Vanaf 1 Julie sal slegs permitte wat in terme van die Wet op Beheer van Vuurwapens 60 van 2000 uitgereik is ‘n wapeneienaar beskerm.

Die South African Gunowners Association het riglyne vrygestel oor wat ’n wapeneienaar te doen staan om homself in lyn met die wet te kry. Die inligting is HIER beskikbaar.

Bokant van Bladsy

 

25.Wat is die doel van vonnisoplegging en wat is die faktore wat die hof in ag neem?

 

Dit is voor-die-hand-liggend dat diegene wat aan 'n misdaad skuldig bevind is, mee gehandel moet word in 'n wyse wat die publieke orde in stand hou. Daar moet altyd balans gehandhaaf word tussen die belange van die krimineel en die van die gemeenskap. Die verskillende doele (of teorieë) van bestrawwing, sluit die volgende in:

  • Vergelding: hierdie is die oudste teorie. Dit behels dat die pleging van 'n misdaad die balans in die orde van die samelewing versteur en indien die oortreder gestraf word, die balans herstel is.
  • Voorkoming: die doel van die voorkomingsteorie is eenvoudig om misdaad te voorkom. Voorbeelde van strawwe wat voorkoming bevorder, is lewenslange gevangenisstraf, verklaring as 'n gewoontemisdadiger, verklaring as 'n gevaarlike misdadiger, deportasie van onwettige uitlanders en die verbeur van 'n bestuurderslisensie.
  • Afskrikking: volgens hierdie teorie, word lede van die publiek van misdaad afgeskrik deur die moontlike tronkstraf wat daarop kan volg. Hierdie teorie berus op die uitgangspunt dat mense 'n sorgelose lewe, eerder as 'n lewe vol probleme verkies en daarvolgens elke handeling noukeurig oorweeg.
  • Hervorming: die doel van hierdie teorie is om oortreders te verander in wetsgehoorsame burgers. Die klem word op die oortreder se persoonlike omstandighede geplaas.

Waar 'n hof 'n vonnis oorweeg, word daar gereeld van die sogenaamde Zinn-driehoek van Faktore gebruik gemaak. Hierdie faktore word hieronder bespreek:

Die persoonlike omstandighede van die beskuldigde

Dit word algemeen aanvaar dat 'n vonnis nie net by die misdaad moet pas nie, maar ook by die misdadiger. 'n Hof sal altyd die oortreder se ouderdom, opvoeding, vorige veroordelings, huislike omstandighede en werksomstandighede in ag neem. Die feit dat 'n beskuldigde berou toon vir sy dade (soos wanneer hy skuldig pleit of met die polisie saamwerk) is een van die sterkste versagtende omstandighede.

Aard van die misdaad

Hoe ernstiger die misdaad, hoe swaarder moet die vonnis wees. Presies hoe ernstig 'n misdaad is, word bepaal uit die oogpunt van die gemeenskap. Vir spesifiek hierdie rede het die Parlement sekere minimum vonnisse voorgeskryf wat opgelê moet word vir sekere ernstige misdade.

Faktore wat hier van belang is, is die waarde van gesteelde goedere, of die beskuldigde uitgelok is, erns van moontlike beserings of 'n goeie motief.

Waar misdade gepleeg is teenoor kwesbare persone, soos vroue, kinders en bejaardes, sal so 'n feit ter verswaring van vonnis in ag geneem word. Dit is ook die geval waar misdaad vooraf beplan of baie grusaam was.

Belange van die gemeenskap

Dit is duidelik dat die gemeenskap se belange beskerm moet word wanneer daar 'n vonnis opgelê word. Die eise wat die gemeenskap stel, beskerming van die gemeenskap teen misdadigers, asook die behoud van vrede word hier in ag geneem.

Bokant van Bladsy

 

26. Wat is die verskillende tipes vonnisse wat 'n hof kan oplê?

 

Die meeste vonnisse word vervat in artikel 276 van die Strafproseswet. 'n Hof is by magte om enige een, of 'n kombinasie van die volgende vonnisse, met 'n gedeelte of die hele vonnis opgeskort, op te lê:

Gevangenisstraf

Hierdie is die mees bekende vorm van straf. 'n Distrikhof kan tot en met 3 jaar gevangenisstraf oplê, behalwe waar 'n sekere wet 'n ander bepaling bevat. Die Wet op Dwelmmiddels verleen aan 'n Distrikhof die jurisdiksie om 25 jaar gevangenisstraf op te lê. 'n Streek- of hooggeregshof kan 'n beskuldigde tot lewenslange gevangenisstraf vonnis.

'n Hof kan oor die algemeen enige termyn van gevangenisstraf (tot op die maksimum vir die hof voorgeskryf) oplê. Die wye diskresie is gewysig deur die Criminal Law Amendment Act. Die wet bepaal dat elke hof 'n beskuldigde tot 'n voorgeskrewe minimum moet vonnis, behalwe as daar wesenlik en dwingende omstandighede teenwoordig is om afwyking daarvan te regverdig.

Voorbeelde:

  • Lewenslange Gevangenisstraf
    • Moord met Voorbedagte Rade;
    • Moord op 'n polisiebeampte;
    • Verkragting, waar ernstige wonde toegedien is;
    • Verkragting op 'n persoon jonger as 16;
    • Verkragting deur 'n persoon wat daarvan bewus is dat hy HIV/VIGS het;
    • Verkragting deur meer as een persoon.
  • Ten Minste 15 Jaar
    • Moord;
    • Roof met die Gebruik van 'n Wapen;
    • Motorkaping;
    • Onwettige besit van 'n Semi-Astomatiese Vuurwapen;
    • Diefstal, Bedrog of Vervalsing van goedere ter waarde van R500 000.
  • Ten Minste 5 Jaar
    • Huisbraak terwyl in Besit van 'n Vuurwapen;
    • Aanranding met die Gebruik van 'n Vuurwapen.

'n Gevangene mag voor sy termyn verstryk aansoek doen om op parool vrygelaat word deur die Korrektiewe Toesig en Paroolraad. Parool word eers oorweeg na ten minste die helfte van die vonnis uitgedien is, maar eers na 25 jaar van 'n lewenslange vonnis.

Boetes

Die Strafproseswet bemagtig die Hof om 'n boete op te lê. 'n distrik hof kan slegs boetes van tot en met R60 000 oplê, waar 'n streekhof beperk is tot R300 000. Die hooggeregshof het geen beperking nie.

Korrektiewe Toesig

Korrektiewe toesig is 'n straf wat die gevonnisde in die gemeenskap kan uitdien. Hierdie tipe vonnis is gereeld gekoppel aan voorwaardes soos huisarres en die verrig van gemeenskapsdiens, sowel as die voltooiing van programme.

Periodieke Gevangenisstraf

Hierdie tipe vonnis kan opgelê word vir tussen 100 en 2 000 ure. Dit behels gewoonlik dat die gevonnisde moet aanmeld by die gevangenis teen Vrydagaand en dan weer vrygelaat word teen Maandagoggend.

Ander

Die hof kan behalwe die bogenoemde opsies ook die volgende bevele maak:

  • Bestuurslisensies - Wanneer 'n persoon aan Dronkbestuur skuldig bevind word kan sy lisensie vir sekere tydperke opgeskort word.
  • Vuurwapenlisensies - Waar iemand van 'n misdaad met oneerlike of gewelddadige aard skuldig bevind word kan hy onbevoeg om 'n vuurwapenlisensie te besit verklaar word.
  • Verbeuringsbevel - Waar daar bevind is dat 'n Misdadiger finansieel voordeel uit misdaad getrek het, of dat sekere eiendom 'n gebruik is om die misdaad te pleeg, kan die geld of eiendom aand die Staat verbeurd verklaar word.
  • Gewoontemisdadiger - Waar die hof van mening is dat 'n misdadiger misdaad pleeg as 'n gewoonte, kan die hof hom as Gewoontemisdadiger verklaar. Die effek van die bevel is dat die misdadiger vir enige volgende misdaad moet 15 jaar gevangenisstraf opgelê word, en dan eers vir parool mag aansoek doen na 7 jaar.

Bokant van Bladsy

27. Wat is van die belangrikste wetgewing wat Strafreg betref?


Strafproseswet, Voorkoming en Bestryding van Korrupte aktiwiteite Wet, Wet op Voorkoming van Georganiseerde Misdaad Wet,  Wet op Onderskepping van Kommunikasie, ens, Wet op Getuiebeskerming 1989, Beskerming van Konstitusionele Demokrasie ens Wet, SA Polisiediens, 1995, Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat Wet , FICA Wet

Bokant van Bladsy

Banner